
Frans Swart is die besturende direkteur van Lefra Produksies, een van die land se voorste teater- en vermaaklikheidsmaatskappye. Frans voltooi sy BA-graadstudies in Kommunikasiekunde aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) in 1982, met sy Honneursgraad wat in 1984 volg. In 1989 voltooi hy sy Finale Diploma in Spraakopleiding ook by UNISA, en verkry sy Lisensiaat (Cum Laude) in Dramakuns aan die Akademie vir Dramakuns onder leiding van die legendariese Aletta Gericke. Sy loopbaan in die vermaaklikheidswêreld begin in 1977 as kameraman by die destydse Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie, maar sluit hy later by die korporatiewe wêreld aan en bekleë poste in die skakelwese by die Universiteit van die Noorde, die Stadsraad van Springs en later by die Ekurhuleni Metropolitaase Munsipaliteit as Uitvoerende Bestuurder: Media en Spesiale Projekte. Tydens Frans se tyd by die Stadsraad van Springs tree hy ook op as die direkteur van die Springs Stadsteater.
Die kunste en vermaak lê Frans nog altyd na aan die hart, en was hy deur die jare deeltyds betrokke by verskeie toneelgroepe, sy eie dramaskool en radio. Frans is ‘n stigterslid van Oos-Rand Stereo en was jare ook ‘n omroeper daar. In 2013 ontvang hy die ATKV Mediaveertjie-toekenning vir die Beste Omroeper by ‘n Gemeenskapsradiostasie. In 1995 stig Frans Lefra Produksies, wat Afrikaanse en ander teater na die mense toe vat. Lefra se Groet die Grotman hou steeds die rekord vir die Afrikaanse produksie met die meeste vertonings – meer as 1,000 regoor Suid-Afrika en Namibië! Die opvolgproduksie, Groet die Grotman 2, skryf Frans self en is dit maar slegs een van die produksies uit sy pen wat die verhoog haal.
Behalwe vervaardiger en skrywer, tree Frans ook op as regisseur van verskeie van Lefra se produksies waaronder die gewilde klugte wat Lefra jaarliks mee toer en staan hy tereg bekend as die “klugkoning van Suid-Afrika”.